Fanie du Toit oor welvaartbelasting…Ons vir jou, Suid Afrika?

 OM TE OFFER WAT JY VRA, SUID-AFRIKA?

Faniedu Toit[1]

Aartsbiskop Tutu se opmerkings oor ‘n sogenaamde “welvaartsbelasting” het die tonge behoorlik los.

Tutu het gepraat by die bekendstelling van ‘n boek “The Humanist Imperative” deur bekende
teoloog John De Gruchy. Die tema van die boek, die herstel van menslikheid en
menswaardigheid in Suid-Afrika, was uiteraard die konteks vir Tutu se omstrede herhaling
van ‘n WVK voorstel: ‘n eenmalige welvaartsbelasting as versoeningsgebaar van
wit Suid-Afrikaners teenoor swart Suid-Afrikaners.

Wat onduidelik was, is of die belasting gemik sou wees op witmense spesifiek, of op alle meer
gegoede Suid Afrikaners, wit en swart – en of belasting, wat uiteraard deur die
staat geadministreer sou moes word, die beste voertuig vir so ‘n gebaar sou
wees.

En alhoewel hierdie tegniese vrae belangrik is, maak Tutu ‘n essensiële punt – die
versoeningsproses is nog nie afgehandel nie, en vra meer as “business as usual”
van ons – veral van diegene wat relatief goed daaraan toe is terwyl die res van
hul landgenote in werklike nood verkeer. “Hoe is dit moontlik,’ vra Tutu, ‘dat
in so ‘n ryk land, soveel mense honger bed toe gaan?”

Om gewone burgelike pligte soos belasting voor te hou as wittes se bydrae tot versoening,
is nie net onoorspronklik nie, dit mis ook die punt. Belastingpligtigheid is
essensieel en daarsonder sal wit Suid-Afrikaners, saam met die res van hulle
landgenote, sink. Dit is die burgerlike plig van verdienende Suid-Afrikaners bo
‘n sekere inkomstevlak.

Versoening vereis buitengewone gebare, aksies wat die “gewone” gang van sake onderbreek,
bevraagteken en belig.

Meeste wit Suid-Afrikaners is by magte om belasting te betaal, presies omdat soveel van
hulle bo ‘n sekere inkomstevlak verdien. En dit het ongetwyfeld historiese
gronde. En om dieselfde historiese gronde is ‘n baie groot persentasie swart
Suid-Afrikaners nie daartoe in staat nie. Die argument dat groter relatiewe
bydraes tot die belastingpot dus reeds ‘n genoegsame bydrae is, het nie meriete
nie.

Dit is ‘n argument wat die FW De Klerk Stigting, Solidariteit en ‘n reeks ander
wit-belangegroepe voorhou. Hulle gaan verder en maak Tutu se beroep af as “ongrondwetlik”,
die bevraagtekening van wit menswaardigheid, en her-polarisering van die
samelewing. My vraag aan hierdie organisasies is eenvoudig dit: as julle nie
bereid is om ‘n welvaartsbelasting as versoeningsgebaar te oorweeg nie, wat is
julle wel bereid om te doen ter wille van versoening en ‘n meer inklusiewe,
regverdige samelewing? Of glo julle dat Suid-Afrika reeds versoen is – dat die
van ons wat histories soveel voordeel getrek het en steeds soveel beter
daaraantoe is, gewoon maar met ons lewens kan voortgaan terwyl sosiale
ongelykheid daagliks vererger?

Daar bestaan by my geen twyfel oor Tutu se motiewe nie. Vir hom het dit nog nooit gegaan oor
die vernedering van wit Suid-Afrikaners nie, maar juis oor die kortste pad na
die herstel van wit en swart menswaardigheid. Sy filosofie is verbasend
eenvoudig: wit en swart menswaardigheid kan nie in isolasie herstel word nie.
Op ‘n basiese vlak het ons mekaar nodig ter wille van genesing en uiteindelike
oorlewing. Ter wille hiervan vereis ons spesiale verlede steeds spesiale stappe
– of ons dit vandag wil erken of nie, nie net in terme van die ekonomie of
politiek nie, maar ook in terme van die psige van ons nasie.

“Bygones do not in fact become bygones, but always return to haunt us”, sê hy. In dieselfde
toespraak wei Tutu ook uit oor die impak van apartheid op swartmense, op die
selfhaat, die geweld, die roekelose omgang met lewens van ander, ensovoorts.
Ons het gedog dinge sou vanself beter word met tyd, sê Tutu, maar ons was
verkeerd.

En dit was die kern van sy boodskap. Ons almal –  wit en
swart – het genesing nodig. En om te kan genees het ons mekaar nodig, anders
sal ons saam ondergaan. ‘n Welvaartsbelasting sou ‘n gebaar van erkenning wees wat
genesing help bevorder.

Dit sou tragies wees as prominente wit belangegroepe dit nie snap nie, en ‘n nog ‘n geleentheid
in ons nasiebou proses laat verbygaan. Leiers in die wit gemeeskap het wit
Suid-Afrikaners grootliks in die steek gelaat in die jare onmiddellik na die
demokratiese oorgang. ‘n Gebrek aan leierskap ten opsigte van nasiebou het
daartoe bygedra dat die wit gemeenskap tot ‘n mate vervreemd geraak het van die
res van die samelewing. ‘n Nuwe gebaar, of dit in die vorm van ‘n
welvaartsbelasting of iets anders is, is nodig om hierdie vervreemding te
verbreek wat baie wit Suid-Afrikaners vandag voel.

Miskien behoort ons ‘n les of twee uit ons eie verlede te leer. In 2001 het ‘n groep wit
Suid-Afrikaners die “Tuiste vir Almal beweging probeer van stapel stuur. Die
plan was om wit Suid-Afrikaners te oorreed om hulle historiese voorregte te
erken – let wel, nie om jammer te sê nie, net te erken! – en ‘n simboliese  bedrag geld in ‘n fonds te betaal. Die
belowende inisiatief is deur die hele Springbokspan ondersteun, maar het kort
daarna ‘n fatale doodskoot gekry toe Rapport hieroor berig gelewer het in ‘n
artikel onder die opskrif: “Bieg en Betaal van Wittes gevra”

In hierdie veldtog is die belangrike onderskeiding getref tussen erkenning en apologie –
‘n onderskeiding wat Rapport ontgaan het. Wanneer swart Suid-Afrikaners vra vir
erkenning, en vir ‘n simboliese gebaar, dan hoor wit Suid-Afrikaners tipies dat
van hulle gevra word om te “Bieg en Betaal”. Maar daar is ‘n reuse verskil.
Miskien is dit ons (wit) gereformeerde wortels, maar daar is steeds ‘n basiese
onvermoë om te hoor wat swart Suid-Afrikaners inderwaarheid vra.

Waarom is erkenning van bevoorregting belangrik? Om die feite te erken is om jouself en
ander te eerbiedig en te bemagtig. Om te bly bieg (of lieg!), is om permanent ontmagtig
te bly. Erkenning lei tot effektiewe aksie. ‘n Bieg of lieg kultuur lei tot permanente
verlamming.

‘n Unieke, eenmalige versoeningsgebaar, soos wat Tutu voorstel, sou dus aan wit
Suid-Afrikaners, wat geldelik daartoe in staat is, die geleentheid bied om hul
historiese bevoorregting te erken en terseldertyd ‘n aktiewe stap te neem om ‘n
verskil te maak in die lewens van mede-landgenote.

En dit is juis waarom dit miskien beter sou wees as die staat dit nie deur belasting afdwing
nie.  Wat so ‘n inisiatief impak en gesag
sou gee, is ‘n publieke verbintenis van vooraanstaande wit besigheidsleiers,
kerkleiers, en kulturele leiers, sowel as sportsterre. As so ‘n groep hierdie
uitdaging van Tutu sou aanvaar om ‘n fonds te begin en te administreer ter wille
van maksimale impak, sou dit ook kon aanleiding kan gee tot kleiner plaaslike
inisiatiewe .

En wat sou genoegsame steun beteken? As die projek deur geloofwaardige wit leiers gedryf sou word en as
‘n substansiële bedrag ingesamel sou word, en dan aan effektiewe projekte
oorgedra sou word, kan duisende, dalk miljoene arm Suid-Afrikaners hieruit
voordeel trek. Om so ‘n veldtog in die naam van versoening en erkenning van
stapel te stuur, sou nie net ‘n historiese stap met materiële voordele wees
nie, maar ook ‘n verreikende boodskap stuur aan diegene wat sover bitter min
baat gevind het by die nuwe Suid-Afrika, ‘n boodskap dat hul landgenote agter
mure en oorkant die spoorlyn, wel omgee.

Bo en behalwe die historiese gronde vir regstelling, kan ons die pragmatiese oorweging vir
regstelling nie langer meer ignoreer nie. As die onlangse verwikkelinge in
Brittanje en elders ons iets kan leer, is dat sosiale ongelykheid nie
volhoubaar is nie. Ons welvaart sal in komende jare al hoe meer afhang van die
lewensstandaard van die kwesbaarste dele van ons samelewing. Gesien vanuit
hierdie perspektief is ‘n konkrete gebaar van erkenning, welwillendheid en
noodleniging ‘n belegging in ‘n beter toekoms. Alle bevoorregte Suid-Afrikaners
behoort hierop ag te slaan. En gegewe ons verlede sou dit veral ‘n verreikende
gebaar wees as histories-bevoordeeldes die eerste stap neem.

(Hierdie artikel het Saterdag 27 Augustus 2011 in DIE BURGER verskyn)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 


[1] Dr du
Toit is Uitvoerende Direkteur van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening.
Vir meer inligting, kontak www.ijr.org.za.

Advertisements

One response to this post.

  1. Ek was ook onlangs by die bekendstelling van De Gruchy en sy medewerkers se boek “The Humanist Imperative”. Wat ‘n wonderlike aand waarin elkeen van die sprekers ‘n mens iets gegee het om oor te dink. Emiritus Aartsbiskop Tutu se boodskap met sy gesindheid van soveel empatie teenoor alle groepe in ons land het my veral diep geraak. Dis so jammer dat sy woorde tans misbruik word om verdeeldheid aan te wakker. Ek onderskryf Dr du Toit se interpretasie hierbo heelhartig. In my eie lewe is dit helend om betrokke te raak by inisiatiewe wat mense vanuit verskillende agtergronde nader aan mekaar bring. As ons dapper genoeg is, sal ons ons oopstel vir Tutu se boodskap waarin hy ons aanmoedig om ons medemenslike verbintenis aan mekaar te erken – ook op simboliese en tasbare maniere.

    Like

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: